Ons weet almal dat lewensversekering noodsaaklik is as jy kinders het wat afhanklik is van jou. Maar as jy nie kinders het nie, beteken dit nie dat jy nie versekering nodig het nie. Daar is baie ander redes waarom jy lewensdekking nodig het. As jy iemand het wat afhankllik is van jou inkomste, moet jy ‘n lewensversekeringspolis hê.

Dit is maklik om te glo dat jy slegs lewensdekking nodig het as jy kinders het. Daar kan egter baie ander mense wees wat op jou inkomste staatmaak en finansieel daarsonder sou sukkel. Lewensversekering gee aan diegene wat op jou inkomste staatmaak finansiële sekerheid as jy nie meer daar is nie. Hierdie mense is nie altyd jou kinders nie en kan selfs langer op jou inkomste vertrou as wat jou kinders doen. Hier is ‘n paar vrae wat jy jouself moet vra om na te gaan of jy lewensdekking benodig as jy nie kinders het nie.

Ondersteun of help jy familielede finansieel?

Dink aan jou oom wat by jou bly, die lening wat jy aan jou neef gegee het, die rekening wat jy vir jou tante betaal, huur vir jou ouers, selfs lugtyd vir jou niggie. Dit is finansiële hulp. Hoe sal hierdie mense klaarkom as jy nie meer finansiële hulp aan hulle kan bied nie?

As jy sterf, kan die uitbetaling van ‘n lewensversekering hierdie familielede ‘n finansiële hupstoot gee, sodat hulle kan bekostig wat jy so groothartig gegee het toe jy geleef het.

Onthou dat finansiële bystand nie ‘n gereelde maandelikse betaling hoef te wees nie. Dit kan alles wees, van betaling vir ‘n nuwe yskas of selfoon tot betaling vir blomme tydens ‘n familie se troue. So as jy finansiële ondersteuning bied, is die kanse groot dat jy lewensdekking nodig het.

Is jy getroud of woon saam?

Baie min van ons hou ons finansies heeltemal apart as ons getroud is of saamwoon. Ons betaal miskien vir verskillende dinge en dra op verskillende maniere by, maar ons deel ons ruimte en ons besittings. As jy nie meer daar is nie, sou jou gade of lewensmaat steeds aanspreeklik wees vir al die kostes verbonde aan die huis wat jy gedeel het – en sou jy dit slegs op een inkomste moes doen. Kan hulle dit bekostig sonder jou inkomste? En selfs as jy nie soveel verdien het as jou gade nie, het jy moontlik huishoudelike take soos kook en skoonmaak gedoen, wat deur iemand anders gedoen moet word.

Om ‘n eggenoot of lewensmaat te verloor is moeilik. Ons mis die vriendskap en hul bydrae tot die huis. Lewensversekering kan nie ‘n eggenoot of lewensmaat vervang nie, maar dit kan verseker dat die oorlewende lewensmaat nie hoef te trek of hul lewensstyl af te skaal nie.

Hoeveel is jou skuld?

Kyk mooi na wat jy aan ander mense of instellings verskuldig is, en tel dit alles op om die totale bedrag te sien. Wat gebeur met skuld as jy sterf? Dit moet eenvoudig betaal word. En as jy nie meer daar is om gereeld te betaal nie, moet die meeste daarvan onmiddellik betaal word. ‘n Lewensversekeringsuitbetaling kan dit doen, sodat jou familie nie hoef te bekommer oor hoe hulle hierdie skuld gaan betaal nie.

Sommige van jou skuld kan versekering hê, soos kredietlewensversekering. In hierdie geval, as jy sterf, skop die versekering in en word die skuld vereffen. As jy egter skuld het waar daar geen versekering is nie, oorweeg dan lewensversekering wat gebruik kan word om hierdie skuld af te betaal.

Jou bydrae maak ‘n verskil, wanneer jy daar is en as jy sterf

Jy tel waarskynlik nie die vele maniere waarop jy bydra tot jou familie en vriende nie. Dit is net deel van die lewe. Jou finansiële bydrae maak egter ‘n verskil in hul lewens. Jy kan aanhou om daardie verskil te maak as jy sterf as jy lewensversekering het om diegene wat op jou staatgemaak het, te help.